Die Boodskap

Jeremia 27:4-15 Die Boodskap (DB)

4. Jeremia moes hulle opdrag gee om hierdie boodskap aan hulle konings te gaan gee: “Die Here is die God van Israel en is sterker as alles en almal. Hy sê:

5. Omdat Ek baie mag en krag het, het Ek die aarde en die mense en die diere wat op die aarde is, gemaak. Ek kan daarmee maak net wat Ek wil.

6. Nebukadnesar, die koning van Babel, is in my diens. Ek het al julle lande vir hom gegee. Hy sal selfs die baas van die wilde diere wees.

7. Al die nasies sal hom en sy seun en sy kleinseun dien. Dit sal so aanhou totdat sterk nasies en magtige konings Babel sal oorwin en oor die land sal regeer.

8. Julle almal moet die koning van Babel dien. Sit julle nek onder die juk van die koning van Babel. Maar as een van hierdie nasies of lande weier om Nebukadnesar te dien, sal Ek hulle straf,” sê die Here. “Ek sal veroorsaak dat hulle oorlog moet maak. Verder sal Ek hulle honger laat ly en ’n epidemie onder hulle laat uitbreek. So sal dit aanhou totdat Nebukadnesar hulle op die ou end oorwin het.

9. Moenie na julle eie profete luister nie. Ook nie na die waarsêers of mense wat sê hulle kan drome uitlê nie. Moet ook nie julle ore uitleen aan fortuinvertellers of towenaars nie. Hulle sê mos vir julle dat julle julle nie aan die koning van Babel sal hoef oor te gee nie.

10. Hulle vertel vir julle ’n spul leuens. Dit maak net dat julle uit julle land gedryf sal word. Ek sal julle ver weg stuur en daar sal julle doodgaan.

11. Maar al die volke wat hulle aan die koning van Babel oorgee en vir hom werk, sal Ek toelaat om in hulle eie land te bly. Hulle sal kan aangaan om die grond te ploeg en daar te bly soos hulle gewoond was,” sê die Here.

12. Ek het toe dieselfde boodskap aan koning Sedekia van Juda herhaal en gesê: “As julle wil bly leef, moet julle julle oorgee aan die koning van Babel. Werk vir hom en sy mense en julle sal bly leef.

13. Hoekom wil u en u mense doodgaan in ’n oorlog? Hoekom wil julle van honger of in ’n epidemie sterf? Die Here het gesê dit is wat sal gebeur met enige volk wat hulle nie aan die koning van Babel oorgee nie.

14. Moenie luister na julle profete wat sê: ‘Julle sal nie aan die koning van Babel oorgegee word nie.’ Hulle vertel vir julle ’n spul leuens!

15. Die Here sê: Ek het hulle nie gestuur nie. Hulle is vermetel om namens My te praat en dan verkondig hulle nog ’n spul leuens ook! Hulle sal die oorsaak wees dat Ek julle uit julle land sal wegjaag. Julle en hierdie profete met hulle leuens sal doodgaan.”