Die Boodskap

Jeremia 25:1-5 Die Boodskap (DB)

1. In die vierde jaar wat Jojakim koning van Juda was, het die Here met Jeremia oor die mense van Juda gepraat. Dit was die eerste jaar wat Nebukadnesar koning van Babel was.

2. Jeremia was ’n profeet van die Here. Hy het vir die mense van Juda en Jerusalem gesê:

3. “Dit is nou vir 23 jaar wat die Here vir my boodskappe gee. Vandag nog sê Hy steeds vir my wat om vir julle te sê. Dit het begin in die dertiende jaar wat Josia koning van Juda was. Koning Josia was die seun van Amon. Ek het altyd vir julle gesê wat die Here sê, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie.

4. Die Here het weer en weer sy profete na julle toe gestuur, maar dit het nie gehelp nie. Julle het nie na hulle geluister nie. Om die waarheid te sê, julle het nie eens probeer om te hoor wat hulle wou sê nie.

5. Die boodskap was duidelik: Julle is op die verkeerde pad. Draai om en hou op om die verkeerde goed te doen waarmee julle besig is. As julle dit doen, kan julle vir altyd in hierdie land bly wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het.