Die Boodskap

Jeremia 23:27-33 Die Boodskap (DB)

27. Hierdie profete vertel vir mekaar hierdie vals drome. Hulle probeer so om my mense van My te laat vergeet. Hulle voorouers het destyds van My vergeet toe hulle Baäl begin dien het.

28. As hulle dan wil, laat hierdie vals profete hulle drome vir ander vertel. Maar as my profete praat, moet hulle die boodskap wat Ek vir hulle gegee het, sonder enige stertjies oordra. Wat waar is en wat vals is, verskil net soveel as wat kaf en koring van mekaar verskil,” sê die Here.

29. Hy vra: “Is my woorde nie soos ’n vuur wat brand nie? Is dit nie soos ’n hamer wat ’n rots in stukke laat spat nie?”

30. Daarom sê die Here: “Dit kan julle weet, Ek is teen hierdie profete wat hulle boodskappe by ander steel en maak of Ek dit gesê het.

31. Ek is ’n opponent van hierdie gladdemondboodskappers wat stories vir die mense vertel en sê dit kom van My af.

32. Hierdie profete se drome is niks anders as hulle verbeelding nie. Dit is ’n spul leuens wat my mense op die verkeerde pad lei. Ek het hulle nie gestuur nie en Ek het niks vir hulle gesê om vir julle te sê nie. Wat hulle sê, help my mense net mooi niks,” sê die Here.

33. Die Here het vir my gesê: “Jeremia, as een van die mense of een van die profete of van die priesters vir jou vra: ‘Wat is die las van ’n boodskap waarmee die Here jou opgesaal het?’ dan moet jy antwoord: ‘Julle is die las waarmee Hy my opsaal. Die Here sê Hy wil niks meer met julle te doen hê nie!’