Die Boodskap

Habakuk 2:3-7 Die Boodskap (DB)

3. Die dinge wat Ek vir jou gewys het en wat jy opgeskryf het, gaan nie nou dadelik gebeur nie. Maar binnekort gaan dit vir seker gebeur. Dit voel dalk vir jou of dinge sloer en of niks aan die gebeur is nie, maar wees geduldig. Jy sal sien, kom sal dit kom en niks en niemand sal dit kan terughou nie.

4. Die vyand is vol van homself, maar sal nie oorleef nie. Maar mense wat die Here met ’n opregte hart dien, sal lewe as hulle aan Hom getrou bly.

5. Maar kyk maar, mense wat baie van hulleself dink, word maklik deur ’n honger na mag verlei. Hulle kry nooit genoeg nie en is nooit tevrede met wat hulle het nie. ’n Mens kry altyd die gevoel dat hulle gulsig is. Hulle hou net altyd aan om ander volke te probeer oorwin en te oorheers.

6. Maar die dag sal kom wanneer hierdie volke wat nou ly, spotliedjies oor die Babiloniërs sal begin sing en hulle belaglik sal maak met spotgedigte. Hulle sal sê: Dit sal nog beroerd met julle gaan, julle diewe! Hoe lank dink julle kan julle nog aanhou om mense te verplig om sogenaamde skuld te betaal sodat julle nog ryker kan word?

7. Dinge sal nog verander, julle sal sien. Baie gou gaan hierdie mense by wie julle skuld invorder in opstand kom. Julle sal van vrees aan die bewe gaan as hulle julle begin aanval en julle in hulle mag beland.