Die Boodskap

Habakuk 2:10-17 Die Boodskap (DB)

10. Maar al die oneerlike dinge wat julle gedoen het, het julle families in die skande gedompel. Julle het gedink julle sou baie wen deur volke uit te roei, maar eintlik het julle julleself kwaad aangedoen.

11. Die stene waarmee julle huise gebou is, sal klagtes teen julle uitskree en die balke in die dak sal dit eggo.

12. Ellende is julle voorland, Babiloniërs! In julle poging om alles in die hande te kry om julle stede te bou, het julle mense vermoor en allerhande misdade gepleeg.

13. Die Here het mag oor die hele wêreld. Hy sal alles waarvoor volke so hard gewerk het en soveel moeite voor ingesit het, in vlamme laat opgaan. Niks sal daarvan oorbly nie.

14. Oral waar mense in die wêreld is, sal die gevoel hulle oorweldig om te weet dat die Here daar is.

15. Slegte dinge wag vir julle, Babiloniërs! Julle wat in julle woede julle buurvolke se swakhede uitbuit en hulle dan in die openbaar sleg laat lyk. Hulle kan hulleself nie verdedig nie.

16. Maar julle sal self in die skande kom, al verwag julle eintlik dat ander mense julle met respek moet behandel. Kry van julle eie medisyne! Die Here sal julle straf. Hy sal sorg dat in plaas daarvan dat ander mense en volke baie van julle sal dink, hulle niks van julle sal dink nie.

17. Julle het onverantwoordelik met die natuur gewerk. Julle het wild en wakker bome afgekap en wilde diere doodgemaak. Nou is dit julle beurt om misbruik en doodgemaak te word. Dit is julle straf vir die moorde wat julle oral gepleeg het en die rowwe manier waarop julle met mense in stede gewerk het.