Die Boodskap

Galasiërs 6:7-12 Die Boodskap (DB)

7. Moenie julleself bedrieg nie. God laat nie toe dat iemand met Hom spot nie. Dit wat jy plant, sal jy ook oes.

8. As jy jou lewe gaan inplant op die terrein van die sonde, sal jy die dood as oes ontvang. Aan die ander kant, as jy jou lewe inplant op die terrein van die Heilige Gees, sal jy die ewige lewe as oes van Hom ontvang.

9. Kom ons hou aan om goed te doen. Dit is presies wat die Here wil hê. Dan sal ons op die regte tyd ons oes van Hom ontvang.

10. Terwyl ons nog tyd oorhet, moet ons elke geleentheid benut om goed te doen aan almal wat op ons pad kom, maar veral aan ons broers en susters in die Here. Hulle is ons bloedfamilie.

11. Hier teen die einde van my brief het ek dit goedgedink om self die laaste paar woorde aan julle te skryf. Tot dusver het my sekretaris alles neergeskryf. Maar nou skryf ek self. Julle kan dit sien aan die groot letters wat ek maak.

12. Daardie mense in die gemeente wat vir julle sê om besny te word, doen dit net om ander te beïndruk. Op dié manier soek hulle ’n maklike uitweg sodat hulle nie vervolg word nie. Hulle is nie bereid om die lyding te verduur wat hand aan hand gaan met die regte verkondiging van die kruis van Christus nie.