Die Boodskap

Galasiërs 6:2-6 Die Boodskap (DB)

2. Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag. Dit is immers sy wet dat julle mekaar moet liefhê.

3. As julle dink dat julle te belangrik is om vir ander mense om te gee, begryp julle net mooi niks van die evangelie nie.

4. Gaan kyk ’n slag goed na julle eie lewe. Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe tot stand gebring het sonder om julle gedurig met ander gelowiges te vergelyk.

5. Op die ou end sal julle slegs oor julle eie lewe aan God moet rekenskap gee.

6. Julle moenie daardie mense afskeep wat julle leer waaroor dit in God se Woord gaan nie. Nee, wees goed vir hulle en sorg vir hulle.