Die Boodskap

Galasiërs 6:14-18 Die Boodskap (DB)

14. Ek self sal dit nooit waag om oor iets anders as oor die kruis van ons Here Jesus Christus te spog nie. Ek is saam met Hom gekruisig. Daarom het die wêreld en al sy sondige begeertes geen houvas meer op my lewe nie. Ek is dood vir die mag van die sonde.

15. Wanneer ’n mens glo, maak dit nie meer saak of jy besny is of nie. Al wat nou saak maak, is dat jy ’n splinternuwe mens is; ’n splinternuwe skepping. Almal wat volgens Christus se nuwe reëls leef, is nou deel van die nuwe Israel.

16. God gee aan hulle almal sy vrede en genade.

17. Ek het nou heeltemal genoeg oor die wet en die besnydenis gesê. Moet my asseblief nie verder oor al hierdie dinge uitvra nie. Ek het heeltemal genoeg ander probleme omdat ek die evangelie verkondig. Kyk dan net hoeveel littekens van Jesus ek oral aan my eie lyf dra. Ek is omtrent al geslaan en mishandel.

18. Die goedheid van ons Here Jesus Christus is met julle almal. My broers en susters, ek bid dat julle sy krag in julle lewe sal ervaar. Amen.