Die Boodskap

Galasiërs 6:1-5 Die Boodskap (DB)

1. My broers en susters, as ander gelowiges aan die een of ander sonde toegee, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, hulle dadelik reghelp. Bring hulle terug op die regte pad sonder om hulle te veroordeel. Tree vol deernis op. Maar pas op sodat julle self nie voor die sonde swig nie.

2. Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag. Dit is immers sy wet dat julle mekaar moet liefhê.

3. As julle dink dat julle te belangrik is om vir ander mense om te gee, begryp julle net mooi niks van die evangelie nie.

4. Gaan kyk ’n slag goed na julle eie lewe. Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe tot stand gebring het sonder om julle gedurig met ander gelowiges te vergelyk.

5. Op die ou end sal julle slegs oor julle eie lewe aan God moet rekenskap gee.