Die Boodskap

Galasiërs 5:8-13 Die Boodskap (DB)

8. Wie het nou vir julle kom sê om anders te lewe? Beslis nie God nie. As julle op hierdie verkeerde pad aanhou loop, gaan julle later die hele kerk saam met julle in die gemors insleep.

9. Onthou, ’n klein bietjie suurdeeg maak immers ’n groot stuk deeg suur.

10. Maar voordat julle dink ek het julle heeltemal afgeskryf, wil ek darem net sê: ek is nie te mismoedig oor julle nie. In vertroue op die Here weet ek dat julle nie op sleeptou geneem sal word deur verkeerde leringe nie. Maar daardie persoon wat julle kop so deurmekaar kom krap het, wie hy ook al is, speel met vuur. God se oordeel wag op hom.

11. My liewe broers en susters, daar by julle word ’n storie versprei dat ek sou gesê het dat gelowiges nog steeds besny moet word. Dit is ’n leuen. Ek sou mos nooit soveel teëstand ervaar het as ek dit gesê het nie. My prediking oor die kruis sou dan nie so ’n groot probleem vir my opponente gewees het nie. Dit lyk vir my diegene wat sê Christene moet besny word, het julle kop behoorlik deurmekaargemaak.

12. Ek wens daardie spul se mes gly ’n slag sodat hulle hulleself ontman. Dan het hulle iets anders om hulle oor te bekommer.

13. My broers en susters, God het julle na Hom toe geroep sodat julle vry kan wees. Moet asseblief nie hierdie vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie. Die belangrikste wat julle moet doen, is om mekaar lief te hê. Wanneer julle regtig vir mekaar omgee en lojaal aan mekaar is, doen julle presies wat God van julle vra.