Die Boodskap

Galasiërs 4:1-6 Die Boodskap (DB)

1. Kom ek verduidelik met die volgende voorbeeld wat dit beteken dat julle Abraham se erfgename is. Julle weet mos dat erfgename wat minderjarig is, nie kan aanspraak maak op hulle erfporsie nie. Hulle is nog te jonk om te erf. Eintlik is minderjariges niks beter daaraan toe as die bediendes wat in hulle huis werk nie. Al sê die testament dat hulle die wettige erfgename is, staan hulle nog onder die toesig van hulle voogde.

2. Hulle erfporsie word beheer deur mense wat amptelik oor hulle aangestel is tot op die dag dat die testament sê hulle kan erf.

3. Weet julle, presies dieselfde het met ons gebeur. Voorheen was ons ook minderjarig. Dit was toe ons nog slawe was van die vyandige magte van hierdie wêreld.

4. Maar toe die regte tyd aanbreek, die tyd waarop God self besluit het, het Hy sy Seun na ons toe laat kom. Christus se aardse ma het toe aan Hom geboorte geskenk. En, soos alle Joodse seuns, het Hy onder die reëls van die wet grootgeword. Dit is hoekom Hy almal wat onder die swaar gewig van die wet gebuk gaan, kan vrymaak.

5. Christus het gesorg dat ons nou as God se kinders aangeneem word. Ons is nie langer weeskinders nie.

6. Omdat julle nou God se kinders is, het Hy die Gees van Christus na ons toe gestuur. Die Heilige Gees bind ons styf aan God vas met ’n onbreekbare band van liefde. Dit is Hy wat aanhoudend hier binne-in ons uitroep: “Vader, liefdevolle Vader!”