Die Boodskap

Galasiërs 3:21-29 Die Boodskap (DB)

21. Staan die wet van Moses teenoor die beloftes wat God aan Abraham gemaak het? Weerspreek hulle mekaar? Nee, natuurlik nie. Maar dit beteken nog nie dat die wet ons by die ware lewe kan uitbring nie. As dit die geval was, het ons mos niks meer as die wet nodig gehad nie. Dan kon ons ons eie saak met God regmaak deur net te doen wat die wet sê. Maar dis glad nie so eenvoudig nie.

22. Die Bybel sê vir ons dat ons almal in die mag van die sonde vasgevang is. God se belofte dat Hy almal vryspreek wat glo, is daarom net vir dié van ons bedoel wat in Jesus Christus glo.

23. Voordat hierdie nuwe tydvak van geloof aangebreek het, was ons almal in ’n yslike groot tronk opgesluit.

24. Die wet het ons dag vir dag opgepas

25. totdat hierdie wonderlike nuwe tyd van geloof aangebreek het.

26-27. Ja, soos ’n kwaai oppasser het die wet heeltyd oor ons baasgespeel totdat Christus uiteindelik gekom het. Maar nou het ons geloof ons in die regte verhouding met God gebring. Daarom staan ons nie meer onder die baasskap van die wet nie. Nee, nou is julle almal God se kinders omdat julle in Christus Jesus glo.Weet julle, toe julle gedoop is, het julle deel gekry aan Christus se redding. Julle doop was soos ’n stel splinternuwe klere. By julle doop het julle Christus aangetrek soos ’n mens ’n stel nuwe klere aantrek. Nou behoort julle heeltemal aan Hom.

28. Omdat julle aan Christus behoort, is julle nou ook deel van sy nuwe familie. Binne hierdie familie maak dit glad nie saak aan watter volk jy behoort nie. Of wat jou status of jou geslag is nie. Hier gaan dit nie daaroor of jy ’n Jood of ’n Griek is nie, en of jy ’n slaaf of ’n baas is nie, en of jy ’n man of ’n vrou is nie. Binne sy familie is almal gelyk. Almal hier binne is nou soos een nuwe mens in Christus Jesus.

29. Julle wat deel is van Christus se familie is natuurlik ook lede van Abraham se nageslag. Daarom geld al die beloftes wat God aan hom gemaak het ook vir julle.