Die Boodskap

Galasiërs 3:15-23 Die Boodskap (DB)

15. My broers en susters, kom ek verduidelik gou met ’n alledaagse voorbeeld wat ek bedoel. Kom ons neem ’n kontrak of ’n ooreenkoms tussen twee mense. Julle weet mos dat as iemand ’n ooreenkoms opgestel het en dit word aanvaar deur al die partye wat daarby betrokke is, niemand dit daarna ongeldig kan verklaar of nog iets kan byvoeg nie. Kom ons pas hierdie voorbeeld nou toe op Abraham.

16. Ons weet dat God sy beloftes aan hom en aan sy afstammeling gemaak het. Maar let fyn op: die Bybel sê nie dat God hierdie belofte aan al sy afstammelinge gemaak het nie. Nee, daar word net van die een afstammeling gepraat. Hierdie afstammeling is natuurlik Christus.

17. Wat ek probeer sê, is dit: God het ’n wettige ooreenkoms met Abraham gemaak. Niemand kan dit nou ongeldig verklaar nie, ook nie die wet van Moses nie. Toe die wet sowat 430 jaar later gekom het, het dit nie hierdie ooreenkoms gekanselleer nie.

18. As ons die seëninge wat God in hierdie ooreenkoms aan Abraham belowe het, kon kry deur slegs te doen wat die wet sê, is sy ooreenkoms met Abraham mos uitgedien. Maar gelukkig geld God se beloftes aan Abraham nog steeds. God het immers al hierdie beloftes aan Abraham gemaak omdat hy in Hom geglo het.

19. Waarom is die wet dan nog nodig? Wel, God het dit later gegee sodat mense presies kon weet wat sonde is. Die wet sou egter net geld totdat daardie een afstammeling van Abraham van wie ek hier bo gepraat het, op die toneel verskyn. Vroeër is die wet deur die engele aan Moses gegee. Moses was toe die tussenganger tussen God en sy volk. Soos julle weet, is tussengangers gewoonlik nodig wanneer twee groepe met mekaar ’n ooreenkoms sluit. Maar wanneer God self iets doen, soos toe Hy sy beloftes aan Abraham gemaak het, is daar geen tussengangers nodig nie.

20. God doen dit sommer self.

21. Staan die wet van Moses teenoor die beloftes wat God aan Abraham gemaak het? Weerspreek hulle mekaar? Nee, natuurlik nie. Maar dit beteken nog nie dat die wet ons by die ware lewe kan uitbring nie. As dit die geval was, het ons mos niks meer as die wet nodig gehad nie. Dan kon ons ons eie saak met God regmaak deur net te doen wat die wet sê. Maar dis glad nie so eenvoudig nie.

22. Die Bybel sê vir ons dat ons almal in die mag van die sonde vasgevang is. God se belofte dat Hy almal vryspreek wat glo, is daarom net vir dié van ons bedoel wat in Jesus Christus glo.

23. Voordat hierdie nuwe tydvak van geloof aangebreek het, was ons almal in ’n yslike groot tronk opgesluit.