Die Boodskap

Efesiërs 1:6-11 Die Boodskap (DB)

6. Daarom moet ons vir ander vertel hoe wonderlik en groot God is en wat Hy alles vir ons gedoen het. Ons het niks verdien nie, maar God het dit verniet vir ons kom gee. Ek sê weer: Jesus, vir wie God so lief is, het kom sorg dat dit alles gebeur.

7. Dit was soos ’n handelstransaksie: omdat ons so sondig was, was ons God se vyande. Toe kom Jesus en betaal wat nodig is om weer alles tussen ons en God reg te maak. Dit het Hom wel sy lewe gekos, maar die vrede is herstel tussen God en almal wat aan Jesus se kant staan. Dat God so iets gedoen het sonder om te vra wat ons kan terugbetaal, wys net hoe geweldig goed Hy vir ons is.

8. Daar is eenvoudig geen einde aan al sy goedheid vir ons nie. As jy wonder waarom God so goed is, kan ek maar net sê dat God weet wat Hy doen, ja, Hy weet alles.

9-10. Daarom het Hy besluit om ons ook te laat verstaan waarom Hy, toe die tyd ryp was, besluit het om Jesus te stuur om alles te kom doen wat nodig was. Dit was eintlik eers net God se geheim, wat mense glad nie verstaan het nie. Maar nou besef ons waarom dit gaan, omdat God graag wil hê dat ons dit moet weet. Ja, Hy sal alles - of dit nou in die hemel is of op die aarde - bymekaarbring soos dit met die skepping bedoel was, en Jesus sal oor alles regeer.

11. God het almal wat aan Jesus behoort, gekies om Syne te wees. Dat dit so moet wees, het Hy lankal besluit en Hy laat altyd alles gebeur soos Hy dit wil hê.