Die Boodskap

Deuteronomium 9:5-18 Die Boodskap (DB)

5. Dit is nie omdat jy so opreg en volmaak is dat die Here die land vir jou gee nie. Hy verjaag die nasies uit die Beloofde Land omdat hulle so goddeloos is, maar ook omdat die Here sy belofte aan Abraham, Isak en Jakob waar wil maak.

6. Onthou dan, die Here gee jou nie hierdie goeie, vrugbare land omdat jy kwansuis so goed is nie. Eintlik is jy hardkoppig en vol van jouself.”

7. “Julle moet nooit vergeet hoe kwaad julle die Here in die woestyn gemaak het nie. Vandat julle uit Egipte weg is tot hier in die vlakte van Bet-Peor het julle julle nog net teen die Here verset.

8. By die berg Horeb was dit die ergste. Julle het die Here toe so kwaad gemaak dat Hy julle daar en dan wou verwoes het.

9. Dit was toe ek die berg op was dat julle iets verskrikliks gedoen het. Ek is teen die berg op om die klippe waarop die Here as’t ware self sy wil vir ons geskryf het te gaan haal. Veertig dae en nagte lank was ek bo-op die berg. In daardie tyd het ek niks geëet of gedrink nie.

10. Die Here het my die twee plat klippe gegee waarop Hy as’t ware in sy eie handskrif vir ons sy wil neergeskryf het. Dit was presies dieselfde as wat Hy vroeër vir ons uit die vuur gesê het.

11. “Na 40 dae en nagte het die Here my toe die klippe gegee en gesê:

12. ‘Klim vinnig van die berg af, want die mense wat jy uit Egipte weggelei het, het ’n verskriklike ding gedoen. Hulle het sommer vroeg al die rug vir My gedraai en vir hulle ’n goue beeld gemaak.’

13. Die Here het ook vir my gesê: ‘Ek het hierdie volk goed deurgekyk en hulle is sleg!

14. Jy moet My nie probeer keer nie, want Ek gaan hulle nou vernietig. Ek gaan hulle naam so uitwis dat niemand ooit weer van hulle sal praat nie. Dan sal Ek vir jou, Moses, die leier van ’n ander, beter en groter volk maak.’

15. “Ek is toe vinnig bergaf met die twee plat klippe onder my arms. Oral op die berg was daar net vuur en vlamme.

16. En toe skielik sien ek dit. Voor my was die goue bulkalf wat julle gemaak het. Julle het sommer gou opgehou om God te dien.

17. Ek het die twee klippe toe voor julle oë stukkend gegooi.

18. “Ek het toe weer voor die Here neergebuig, soos die eerste keer toe ek 40 dae en nagte lank met Hom geworstel het. Soos die vorige keer het ek ook niks geëet en gedrink nie. Ek het met Hom geworstel omdat julle die Here diep teleurgestel en Hom kwaad gemaak het.