Die Boodskap

Deuteronomium 9:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Moses het ook vir die Israeliete gesê: “Israel, jy moet nou baie mooi luister. Jy staan op die punt om deur die Jordaan te trek en ’n nuwe land binne te gaan. Daar woon volke wat groter en sterker is as jy. Hulle stede is groot en met hoë mure omring.

2. En die mense is groot. Hulle is soos die reuse waarvan jy al gehoor het. Niemand kon hulle ooit oorwin nie.

3. Die Here jou God sal egter soos ’n groot vuur voor jou uittrek. Hy sal al hierdie volke voor jou vernietig. Binne ’n kort tydjie sal jy al die volke oorwin en die land beset. Dit sal gebeur soos die Here vir jou gesê het.

4. Wanneer die Here almal voor jou uitgejaag het, moet jy nie skielik te veel van jouself begin dink nie. Moenie sê jy het die land gekry omdat jy so goed is nie. Nee, die Here het die nasies uitgeroei omdat hulle so sleg was.

5. Dit is nie omdat jy so opreg en volmaak is dat die Here die land vir jou gee nie. Hy verjaag die nasies uit die Beloofde Land omdat hulle so goddeloos is, maar ook omdat die Here sy belofte aan Abraham, Isak en Jakob waar wil maak.

6. Onthou dan, die Here gee jou nie hierdie goeie, vrugbare land omdat jy kwansuis so goed is nie. Eintlik is jy hardkoppig en vol van jouself.”

7. “Julle moet nooit vergeet hoe kwaad julle die Here in die woestyn gemaak het nie. Vandat julle uit Egipte weg is tot hier in die vlakte van Bet-Peor het julle julle nog net teen die Here verset.

8. By die berg Horeb was dit die ergste. Julle het die Here toe so kwaad gemaak dat Hy julle daar en dan wou verwoes het.