Die Boodskap

Deuteronomium 8:12-18 Die Boodskap (DB)

12. Wanneer jy eendag genoeg het om van te leef en in die mooi huise woon wat jy gebou het,

13. en wanneer jou skape en beeste vermeerder het en jou goud, silwer en besittings baie meer geword het,

14. moet jy nie te selfvoldaan begin word en die Here wat jou uit die swaarkry van Egipte weggevat het, vergeet nie.

15. Onthou, die Here het jou deur ’n groot en verskriklike woestyn gelei waar daar slange, wrede diere en skerpioene was. En in die droë streke was daar geen water nie, maar die Here het vir jou water uit ’n klipharde rots laat kom.

16. Onthou, die Here het vir jou manna in die woestyn gegee. Dit was iets wat jy en jou voorouers nie vantevore geken het nie. In die woestyn het Hy jou swaar laat kry, maar Hy was ook baie goed vir jou.

17. Daarom moet jy nooit dink jy het met jou eie krag ryk en sterk geword nie.

18. Dink altyd aan die Here, want dit is Hy wat jou gehelp het om ryk te word. Hy het dit gedoen omdat Hy tot vandag toe getrou is aan die beloftes wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob gemaak het.