Die Boodskap

Deuteronomium 7:10-26 Die Boodskap (DB)

10. Wie Hom haat, sal Hy straf. Vir sy haters sal Hy geen genade oorhê nie.

11. Luister dan nou mooi na al die wette en gebooie wat ek julle vandag gee.

12. “As jy na hierdie gebooie luister en dit gehoorsaam, sal die Here jou bly liefhê en aan die ooreenkoms dink wat Hy al met jou voorvaders gesluit het.

13. Hy sal jou liefhê en seën sodat jy baie kinders sal hê. Hy sal ook vir goeie oeste sorg en jou volop koring, mos en olie skenk. Al jou skape en beeste sal aanteel en baie word. Dit sal gebeur in die land wat Hy aan jou voorouers belowe het.

14. Met geen ander volk sal dit so goed gaan soos met jou nie. Nie jy of jou diere sal ooit onvrugbaar wees nie.

15. En die Here sal jou teen alle siektes bewaar. Al die verskriklike siektes van Egipte wat jy ook baie goed ken, sal die Here van jou af weghou. Hy sal sorg dat jou vyande al daardie siektes kry.

16. Vernietig alle volke wat die Here in jou hande gaan gee. Bewys aan niemand van hulle enige genade nie en dien geen ander gode nie, want dit kan jou lewe verwoes.”

17. “As jy begin twyfel en wonder hoe jy die nasies wat baie groter en sterker as jy is, gaan vernietig,

18. moet dan nie bang word nie. Dink dan terug aan wat die Here jou God met Egipte en die farao se weermag gedoen het.

19. Jy het mos die krag van die Here daar in Egipte gesien. En jy het mos ervaar hoe die Here jou met sy groot krag uit Egipte gelei het. So sal die Here ook met al die nasies maak vir wie jy nou so bang is.

20. Hy sal al die nasies bang maak vir jou. Die Here sal self almal wat vir julle wegkruip, verwoes.

21. Moenie vir die nasies bang wees nie, want die Here is mos by jou. Hy is ’n God wat baie groot en sterk is.

22. Die Here sal die nasies stadig voor jou wegjaag. Jy hoef nie almal met een slag te vernietig nie, want dan sal die wilde diere weer terugkom en net vir jou ’n oorlas word.

23. Moenie bang wees nie, want die Here sal al hierdie nasies in jou hand gee. Hy sal paniek en verwarring onder hulle saai totdat almal uitgewis is.

24. En Hy sal al die nasies se konings in jou hand gee en jy sal hulle name so uitwis dat niemand hulle meer sal onthou nie.

25. Al die beelde van hulle gode moet jy in die vuur gooi. En die goud en silwer waarvan daardie beelde gemaak is, moet jy nie vir jou vat nie. As jy dit doen, kan dit jou verlei om daardie gode te aanbid.

26. Afgode is vir die Here ’n skande. Hy haat hulle; daarom moet jy hulle ook haat. Jy moenie eens iets van ’n afgod in jou huis inbring nie, want dit kan jou lewe verwoes. Vernietig dit.”