Die Boodskap

Deuteronomium 7:1-19 Die Boodskap (DB)

1. “Wanneer die Here jou God jou in die land bring waarheen jy nou op pad is, sal Hy die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete voor jou wegjaag.

2. Wanneer die Here hierdie sewe volke in jou hand gegee het, moet jy hard met hulle wees. Moenie ’n ooreenkoms met hulle sluit nie, moenie vir hulle goed wees nie.

3. Jy mag ook nie oor en weer met hulle trou nie. Jou dogters mag nie met een van die mense se seuns trou nie en jou seuns ook nie met een van hulle dogters nie.

4. Hierdie mense sal jou kinders van die Here af wegrokkel en hulle sal ander gode begin dien. Dan sal die Here kwaad word en Hy sal jou ook uitwis.

5. Jy moet daarom al hierdie mense se altare wat hulle vir hulle afgode gebou het, omgooi, hulle klippilare stukkend breek, hulle heilige pale plattrek en al hulle afgodsbeelde in die vuur gooi.

6. Doen dit, want jy behoort aan die Here. Van al die volke op die aarde het die Here jou gekies en jou sy spesiale eiendom gemaak. Jy moet daarom anders as die ander volke leef.

7. Die Here het jou nie liefgekry omdat jy belangrik is of omdat jy sterker as die ander volke is nie. Jy was eintlik die swakste en die geringste van almal.

8. Die Here het jou gekies bloot omdat Hy lief is vir jou. Hy het aan sy beloftes aan Abraham, Isak en Jakob gedink. Dit is waarom Hy jou ook uit Egipte, waar jy baie swaargekry het, gaan haal het.”

9. “Onthou altyd dat die Here jóú God is. Hy is getrou. Wie Hom liefhet, sal altyd die Here se verbondsliefde ervaar. Hy sal tot in die verste geslag vir mense bly omgee wat aan Hom getrou is.

10. Wie Hom haat, sal Hy straf. Vir sy haters sal Hy geen genade oorhê nie.

11. Luister dan nou mooi na al die wette en gebooie wat ek julle vandag gee.

12. “As jy na hierdie gebooie luister en dit gehoorsaam, sal die Here jou bly liefhê en aan die ooreenkoms dink wat Hy al met jou voorvaders gesluit het.

13. Hy sal jou liefhê en seën sodat jy baie kinders sal hê. Hy sal ook vir goeie oeste sorg en jou volop koring, mos en olie skenk. Al jou skape en beeste sal aanteel en baie word. Dit sal gebeur in die land wat Hy aan jou voorouers belowe het.

14. Met geen ander volk sal dit so goed gaan soos met jou nie. Nie jy of jou diere sal ooit onvrugbaar wees nie.

15. En die Here sal jou teen alle siektes bewaar. Al die verskriklike siektes van Egipte wat jy ook baie goed ken, sal die Here van jou af weghou. Hy sal sorg dat jou vyande al daardie siektes kry.

16. Vernietig alle volke wat die Here in jou hande gaan gee. Bewys aan niemand van hulle enige genade nie en dien geen ander gode nie, want dit kan jou lewe verwoes.”

17. “As jy begin twyfel en wonder hoe jy die nasies wat baie groter en sterker as jy is, gaan vernietig,

18. moet dan nie bang word nie. Dink dan terug aan wat die Here jou God met Egipte en die farao se weermag gedoen het.

19. Jy het mos die krag van die Here daar in Egipte gesien. En jy het mos ervaar hoe die Here jou met sy groot krag uit Egipte gelei het. So sal die Here ook met al die nasies maak vir wie jy nou so bang is.