Die Boodskap

Deuteronomium 5:2-12 Die Boodskap (DB)

2. Lank gelede het die Here by Horeb met ons ’n ooreenkoms gesluit.

3. Hy het nie met ons voorouers ’n ooreenkoms gesluit nie, maar met ons; met ons wat nog leef en wat vandag hier op Bet-Peor se vlakte staan.

4. Daar by Horeb het Hy met ons persoonlik uit ’n vuur gepraat.

5. En ek het tussen julle en die Here gaan staan omdat julle bang was vir die vuur. Toe het ek julle alles vertel wat die Here gesê het.

6. “Dit is wat Hy gesê het: ‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte waar jy verdruk is, uitgelei het.

7. ‘Jy mag geen ander gode besit of aanbid nie.

8. ‘Jy mag geen beeld maak van enigiets wat in die hemel is, of op die aarde of in die waters onder die aarde nie.

9. Jy mag nooit voor so ’n beeld buig of dit aanbid nie. Die Here alleen is die ware God en Hy duld nie ander gode nie. Hy straf alle mense en hulle kinders wat Hom haat en ander gode dien.

10. Almal wat Hom egter liefhet en volgens sy wil leef, het die Here op sy beurt ook baie lief.

11. ‘Moenie die Here se Naam sonder rede gebruik nie. Dink mooi voordat jy dit doen, want Ek, die Here jou God, sal nie toelaat dat mense my Naam sommer net so, sonder rede, gebruik nie.

12. ‘Onderhou die sabbat. Leef anders op die sewende dag van die week, want Ek, die Here jou God, vra dit van jou.