Die Boodskap

Deuteronomium 32:24-28 Die Boodskap (DB)

24. Hierdie mense sal niks meer hê om te eet nie. Hulle sal dodelik siek word. Ek stuur roofdiere om hulle aan te val. Giftige slange sal hulle pik en hulle doodmaak.

25. Buitekant op straat sal mense doodgaan in die oorlog en binne-in die huis sal mense van angs en benoudheid rondhardloop. Almal sal ly: die jongmans en die jongmeisies, die babas en die ou mense. Die laaste een sal doodgemaak word.

26. “Ek wou hulle oor die hele aarde verstrooi sodat niemand weer aan hulle sal dink nie. Niemand sal eens onthou dat daar so ’n volk soos Israel was nie.

27. Maar toe dink Ek daaraan: dalk sal die vyande dan met My spot. Hulle sal nie verstaan wat Ek doen nie. Hulle sal dink dis hulle wat Israel oorwin het. Dan sal hulle sê: ‘Ons het gewen! Dis omdat ons sterk is dat ons die Here se volk vernietig het. Dis nie die Here wat dit gedoen het nie. Dis eintlik ons wat so goed is!’

28. “Israel is ’n nasie wat te dom is vir woorde. Hulle verstaan net mooi niks nie. Hulle kan nie insien wat met hulle gebeur nie.