Die Boodskap

Deuteronomium 32:17-24 Die Boodskap (DB)

17. So het hulle offers vir duiwels gebring. Hulle het goed wat nie eens gode was nie, gedien. Hulle het daardie gode nie voorheen geken nie. Hierdie gode is maar nou die dag eers uitgevind. Hulle oupas en oumas het nie eens geweet dat sulke gode bestaan nie. Maar hierdie klomp mense het voor sulke nikswerd goed gebuig en hulle gedien.

18. Jy het die Een wat jou kan beskerm, die Een wat jou gemaak het, afgeskeep, Israel. Jy het die God wat jou geskep het, vergeet.

19. “Die Here het gesien wat jy doen. En dit was afskuwelik vir Hom. Hy het kwaad geword vir sy eie seuns en dogters. Julle het Hom woedend gemaak.”

20. “Toe het Hy gesê: Nou maar goed. Ek sal hulle weggooi. Ek sal hulle vernietig. Hulle soek mos daarvoor, want hulle is ’n klomp slegte mense. Hulle hou nie hulle woord nie.

21. Hulle het My jaloers gemaak toe hulle goed wat nie ’n god is nie, aanbid het. Hulle het hierdie nikswerd afgode bo My verkies. Hulle het My beledig met wat hulle gedoen het. Hulle het My uitgetart. Daarom sal Ek hulle nou jaloers maak. Ek sal dit doen deur ander nasies voorspoedig te maak. Ek sal hulle kwaad maak. Ek sal ’n spul eenvoudige mense wat nie eens aan my volk behoort nie, voorspoedig maak.

22. Ek was so kwaad dat dit soos ’n vuur was wat aangesteek is. Hierdie vuur het alles verteer. Die aarde met al sy oeste is vernietig. Die berge het afgebrand. Tot die grafte is vernietig toe my woede daaroor gegaan het.

23. “Ja, Ek sal rampe en ellende op hierdie volk afgooi. Ek sal hulle met pyle skiet wat hulle sal seermaak.

24. Hierdie mense sal niks meer hê om te eet nie. Hulle sal dodelik siek word. Ek stuur roofdiere om hulle aan te val. Giftige slange sal hulle pik en hulle doodmaak.