Die Boodskap

Deuteronomium 31:5-22 Die Boodskap (DB)

5. Die Here sal al hierdie nasies vir julle gee. Jy sal hulle oorwin. En dan moet julle met hulle maak soos ek vir julle verduidelik het.

6. “Wees sterk! Wees dapper en vol geloofsvertroue! Moenie bang wees vir al hierdie mense nie! Die Here jou God trek voor julle uit. Hy sal julle vyande verslaan. Hy sal julle nie in die steek laat nie. Julle is nie alleen nie. Die Here is saam met julle!”

7. Toe het Moses vir Josua geroep. Hy het toe kliphard vir hom gesê: “Wees sterk! Wees dapper en vol geloofsvertroue! Jy moet hierdie volk die land inlei wat die Here belowe het om vir hulle te gee. Hy het dit reeds vir hulle oupagrootjies belowe. Jy moet hierdie volk lei sodat hulle die nasies in hierdie land kan verslaan. Jy moet hierdie land vir Israel gaan gee.

8. Moenie bang wees nie! En bly altyd vol moed! Die Here gaan saam met jou. Hy sal jou nie in die steek laat nie. Jy is nooit alleen nie. Die Here is by jou!”

9. Moses het toe al hierdie woorde in ’n boek geskryf. Daarna het hy die boek vir die mense gegee wat in die huis van die Here werk. Hulle het in die woestyn die ark gedra waarin die Here se ooreenkoms met sy volk was. Moses het hierdie boek ook vir die leiers van Israel gegee.

10. Toe het Moses gesê: “Aan die einde van elke sewende jaar moet julle almal wat skuld gemaak het, se skuld afskryf.

11. Daardie jaar, as julle die fees vier om terug te dink aan hoe julle in die woestyn gebly het nadat die Here julle uit Egipte gered het, moet julle hierdie boek weer lees. Al die mense van Israel moet dan bymekaarkom in die plek wat die Here julle God sal kies. Hy sal daar bly. Dan moet julle hierdie boek van voor tot agter lees sodat almal dit kan hoor.

12. Roep almal bymekaar. Al die mans en die vroue en die kinders moet daar wees. Ook al die mense van ander nasies moet kom. Hulle moet almal luister na wat die Here wil hê. Dan sal hulle leer om respek vir die Here te hê en te doen wat Hy van hulle vra.

13. Julle moet dit gereeld elke sewe jaar doen sodat julle kinders ook kan hoor wat die Here van hulle vra. Hulle het mos nog nie gehoor wat die Here van hulle verwag nie. Hulle moet leer om respek vir die Here hulle God te hê en te doen wat Hy van hulle vra. Julle moet dit altyd doen, so lank as wat julle in die land bly wat julle nou ingaan as julle oor die Jordaan trek.”

14. Toe het die Here met Moses gepraat. Hy het gesê: “Dit het nou tyd geword dat jy moet sterf. Roep vir Josua en sê hy moet saam met jou na die tent toe gaan waar Ek aanbid word. Ek sal daar vir hom sê wat Ek wil hê hy moet doen.”

15. Toe het Moses en Josua na die tent toe gegaan waar die Here aanbid word. Die Here het toe daar aan hulle verskyn. Hulle het gesien hoe ’n groot wolk by die ingang van die tent verskyn. Hulle het dadelik besef dis die Here.

16. Toe het die Here vir Moses gesê: “Die tyd is baie naby dat jy moet sterf. Jy sal saam met jou oupas en oupagrootjies in die graf wees. Ná jou dood sal hierdie klomp mense vreemde afgode begin aanbid. Hulle sal die gode dien van die mense van die nuwe land wat Ek vir hulle gee. Hulle sal heeltemal van My vergeet. Hulle sal hulle nie meer steur aan die ooreenkoms wat Ek met hulle gesluit het nie.

17. Dan sal Ek kwaad word oor wat hulle doen. Ek sal nie meer by hulle wees nie. En Ek sal nie meer vir hulle sorg nie. Dan sal hulle vernietig word. Hulle sal so swaarkry dat hulle uiteindelik sal sê: ‘Al hierdie rampe en ellendes het oor ons gekom omdat ons afgode begin dien het.’

18. Ek sal dan nie meer aan hulle verskyn nie, want hulle het verkeerde dinge gedoen en allerhande afgode begin dien.

19. “Daarom moet jy nou die woorde van hierdie lied neerskryf wat Ek vir jou leer. Daarna moet jy dit vir die mense van Israel gaan leer. Leer die woorde vir hulle sodat hulle dit kan sing. Agterna sal hierdie lied hulle daaraan herinner dat hulle nie gedoen het wat Ek hulle beveel het nie.

20. “Ek gee vir hulle ’n land wat oorgenoeg van alles het. Ek het hulle oupagrootjies belowe dat Ek hulle na hierdie land sal bring. In hierdie land sal die Israeliete ryk word. Dit sal baie goed met hulle gaan. Hulle sal kan eet net wat hulle wil omdat hulle meer as genoeg van alles sal hê. Hulle sal vet word. Hulle sal egter ander gode begin dien. Hulle sal nie meer vir My respek hê nie. Hulle sal van My vergeet. En hulle sal ook vergeet van die ooreenkoms wat Ek met hulle gemaak het.

21. Daardie dag sal hulle moeilikheid begin. Groot rampe sal oor hulle kom. Hulle sal swaarkry. Maar dan sal hierdie lied hulle daaraan herinner dat hulle geweet het wat om te doen, maar dat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle gesê het nie. Hulle kinders mag ook nie vergeet wat Ek vir julle gesê het nie. Ek weet mos hoe mense is. Selfs nog voor hierdie mense die land gaan bewoon wat Ek vir hulle gee, sê Ek al dat hulle My sal verlaat.”

22. Toe het Moses die woorde van hierdie lied opgeteken en hy het dit vir die Israeliete geleer.