Die Boodskap

Deuteronomium 31:3-16 Die Boodskap (DB)

3. Maar die Here julle God sal wel saam met julle gaan. Hy trek voor julle uit deur die Jordaan. En Hy gaan die nasies in die land waarheen julle trek, vernietig. Julle sal daardie land vir julleself gaan vat. Julle gaan daar bly. Josua is van nou af julle leier. Hy gaan saam met julle. Hy sal julle lei, net soos die Here belowe het.

4. Die Here gaan al die nasies wat nou in daardie land bly, vernietig. Hy sal met hulle maak wat Hy met die Amoritiese konings Sihon en Og gemaak het.

5. Die Here sal al hierdie nasies vir julle gee. Jy sal hulle oorwin. En dan moet julle met hulle maak soos ek vir julle verduidelik het.

6. “Wees sterk! Wees dapper en vol geloofsvertroue! Moenie bang wees vir al hierdie mense nie! Die Here jou God trek voor julle uit. Hy sal julle vyande verslaan. Hy sal julle nie in die steek laat nie. Julle is nie alleen nie. Die Here is saam met julle!”

7. Toe het Moses vir Josua geroep. Hy het toe kliphard vir hom gesê: “Wees sterk! Wees dapper en vol geloofsvertroue! Jy moet hierdie volk die land inlei wat die Here belowe het om vir hulle te gee. Hy het dit reeds vir hulle oupagrootjies belowe. Jy moet hierdie volk lei sodat hulle die nasies in hierdie land kan verslaan. Jy moet hierdie land vir Israel gaan gee.

8. Moenie bang wees nie! En bly altyd vol moed! Die Here gaan saam met jou. Hy sal jou nie in die steek laat nie. Jy is nooit alleen nie. Die Here is by jou!”

9. Moses het toe al hierdie woorde in ’n boek geskryf. Daarna het hy die boek vir die mense gegee wat in die huis van die Here werk. Hulle het in die woestyn die ark gedra waarin die Here se ooreenkoms met sy volk was. Moses het hierdie boek ook vir die leiers van Israel gegee.

10. Toe het Moses gesê: “Aan die einde van elke sewende jaar moet julle almal wat skuld gemaak het, se skuld afskryf.

11. Daardie jaar, as julle die fees vier om terug te dink aan hoe julle in die woestyn gebly het nadat die Here julle uit Egipte gered het, moet julle hierdie boek weer lees. Al die mense van Israel moet dan bymekaarkom in die plek wat die Here julle God sal kies. Hy sal daar bly. Dan moet julle hierdie boek van voor tot agter lees sodat almal dit kan hoor.

12. Roep almal bymekaar. Al die mans en die vroue en die kinders moet daar wees. Ook al die mense van ander nasies moet kom. Hulle moet almal luister na wat die Here wil hê. Dan sal hulle leer om respek vir die Here te hê en te doen wat Hy van hulle vra.

13. Julle moet dit gereeld elke sewe jaar doen sodat julle kinders ook kan hoor wat die Here van hulle vra. Hulle het mos nog nie gehoor wat die Here van hulle verwag nie. Hulle moet leer om respek vir die Here hulle God te hê en te doen wat Hy van hulle vra. Julle moet dit altyd doen, so lank as wat julle in die land bly wat julle nou ingaan as julle oor die Jordaan trek.”

14. Toe het die Here met Moses gepraat. Hy het gesê: “Dit het nou tyd geword dat jy moet sterf. Roep vir Josua en sê hy moet saam met jou na die tent toe gaan waar Ek aanbid word. Ek sal daar vir hom sê wat Ek wil hê hy moet doen.”

15. Toe het Moses en Josua na die tent toe gegaan waar die Here aanbid word. Die Here het toe daar aan hulle verskyn. Hulle het gesien hoe ’n groot wolk by die ingang van die tent verskyn. Hulle het dadelik besef dis die Here.

16. Toe het die Here vir Moses gesê: “Die tyd is baie naby dat jy moet sterf. Jy sal saam met jou oupas en oupagrootjies in die graf wees. Ná jou dood sal hierdie klomp mense vreemde afgode begin aanbid. Hulle sal die gode dien van die mense van die nuwe land wat Ek vir hulle gee. Hulle sal heeltemal van My vergeet. Hulle sal hulle nie meer steur aan die ooreenkoms wat Ek met hulle gesluit het nie.