Die Boodskap

Deuteronomium 3:12-25 Die Boodskap (DB)

12. “Nadat ons hierdie land ingeneem het, het ek dit begin verdeel. Vir Ruben en Gad het ek die hele gebied van Aroër naby die Arnonrivier af tot by sekere gedeeltes van die Gileadberge gegee. Dit het ook ’n aantal stede ingesluit.

13. Vir die helfte van die stam van Manasse het ek die res van Gilead gegee, asook die hele Basan waar Og regeer het. Dit is die hele Argobstreek. Basan is ook soms Refaïeteland genoem.

14. Jaïr die seun van Manasse, het die hele gebied van Argob tot aan die grens van Gesur en Maäkat vir hom geneem. En hy het al die plekke na homself vernoem. Vandag nog staan dit as Jaïrsdorpe bekend.

15. Vir Magir van die stam van Manasse het ek Gilead gegee.

16. Vir Ruben en Gad het ek die hele Gilead tot by die Arnonrivier gegee, asook die gebiede tot by die Jabbokrivier. Dit het tot aan die grens van die Ammoniete gestrek.

17. Aan die westekant het hulle gebied tot aan die Jordaan gestrek; van Gennesaret in die noorde af tot by die Dooie See in die suide en die Pisgaberge in die ooste.

18. “Toe het ek vir die stamme aan die oostekant van die Jordaan gesê: ‘Die Here het julle hierdie wonderlike land aan die Oos-Jordaan gegee, maar gaan help nou eers julle broers om die Wes-Jordaan te oorwin. Stel ’n weermag saam en trek voor hulle deur die Jordaan.

19. Julle vroue en kinders en die vee, waarvan julle baie het, kan maar solank in die Oos-Jordaanse gebied woon.

20. Julle moet hulle help totdat hulle die hele Wes-Jordaan oorwin het en die Here vir hulle ook rus en vrede gegee het. Dan kan julle weer na julle plekke oos van die Jordaan terugkeer.’”

21. “Toe het ek vir Josua gesê: ‘Jy het nou self gesien wat die Here met Og en Sihon gedoen het. So sal Hy met elke volk aan die Wes-Jordaan maak.

22. Moet nooit bang wees vir hulle nie, want die Here sal saam met jou teen hulle veg.’

23. “In dié tyd het ek vir die Here gesê:

24. ‘Here, oor baie jare het U vir my u grootheid en krag laat sien. En dit was nog maar net die begin van wat U gaan doen. Geen god in die hemel of op die aarde kan sulke dinge doen nie.

25. Nou vra ek U, Here, om my ook die mooi land aan die ander kant van die Jordaan te laat sien. Die pragtige bergland en die hoë berge van die Libanon.’