Die Boodskap

Deuteronomium 27:10-20 Die Boodskap (DB)

10. Daarom moet julle doen wat die Here julle God julle beveel. Julle moet alles doen wat ek vandag vir julle sê.”

11. Daardie selfde dag het Moses ook nog vir die volk gesê:

12. “Wanneer julle oor die Jordaan gaan, moet party stamme op die Gerisimberg gaan staan. Simeon en Levi en Juda en Issaskar en Josef en Benjamin moet aan daardie kant op die Gerisimberg gaan staan. Hulle moet vertel hoe die Here die volk voorspoedig gaan maak as hulle doen wat Hy hulle beveel.

13. Die stamme van Ruben en Gad en Aser en Sebulon en Dan en Naftali moet op die Ebalberg aan hierdie kant gaan staan. Hulle moet hardop sê hoe die Here die mense gaan straf wat nie doen wat Hy sê nie.

14. “Die Leviete moet dan vir die volk Israel skree:

15. ‘Dit sal sleg gaan met elkeen wat vir hom ’n beeld van ’n afgod maak, dit êrens neersit waar ander dit nie kan sien nie, en dan voor daardie beeld buig en dit aanbid. Afgode is mensewerk. Hulle is walglik vir die Here. Hy kan so iets nie verdra nie.’“Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’

16. “Dit sal sleg gaan met enigiemand wat nie sy pa of ma goed behandel nie.“Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’

17. “Dit sal sleg gaan met elkeen wat van sy buurman grond steel deur die grensdrade stilletjies te verskuif.“Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’

18. “Dit sal sleg gaan met enigiemand wat ’n blinde man op die verkeerde pad lei sodat hy verdwaal.“Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’

19. “Dit sal sleg gaan met enigiemand wat vreemdelinge en weeskinders en weduwees sleg behandel.“Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’

20. “Dit sal sleg gaan met enigiemand wat by sy pa se vrou slaap, want hy het nie sy pa geëer nie.“Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’