Die Boodskap

Deuteronomium 2:6-15 Die Boodskap (DB)

6. Vir kos sal julle moet betaal en drinkwater sal julle moet koop.’

7. Omdat die Here julle God by julle was, het dit altyd met julle goed gegaan. Toe julle deur hierdie groot woestyn getrek het, het Hy dag vir dag vir julle gesorg. Veertig jaar lank sorg Hy al vir julle en dit is waarom julle niks kortkom nie.

8. “Ons is weg uit Edom waar ons familie langs die Seïrberge woon en het na die dorpe Elat en Esion-Geber afgedraai. So het ons in die rigting van die Moabvlaktes getrek.”

9. “Toe het die Here weer vir my gesê: ‘Moenie Moab aanval of ’n geveg begin nie. Van hierdie land sal julle ook niks kry nie, want Ek het die stad Ar aan die nageslag van Lot gegee.’

10. (Die Emiete het voorheen in Ar gewoon. Hulle was net soos die Enakiete groot en lank.

11. Soms is die Enakiete ook Refaïete genoem, maar die Moabiete het hulle Emiete genoem.

12. Die Horiete het vroeër in Edom gewoon, maar Esau se kinders het hulle daaruit verjaag en hulle heeltemal uitgewis. Die Edomiete, die nageslag van Esau, het toe in die land gaan woon. So sou Israel ook later met die Kanaäniete maak.)

13. Toe is ons deur die Seredrivier soos die Here vir ons gesê het om te doen.

14. Dit het 38 jaar geduur vandat ons by Kades-Barnea weg is totdat ons by die Seredrivier gekom het. In hierdie jare is al die mense dood wat destyds nie die land wou inneem nie.

15. Die Here het hulle ongehoorsaamheid onthou en hulle oor die jare laat sterf.