Die Boodskap

Deuteronomium 2:25-37 Die Boodskap (DB)

25. Van vandag af maak Ek al die volke bang vir julle. As hulle van julle hoor, sal hulle benoud raak. As hulle julle sien, sal hulle begin bewe.’”

26. “Toe het ek mense uit ons kampplek in die Kedemotwoestyn met ’n boodskap na Sihon gestuur:

27. ‘Laat my deur jou land trek. Ek sal reguit trek sonder om af te draai.

28. Vir die kos wat ek eet en die water wat ek drink, sal ek betaal.

29. Laat my deur jou gebied trek tot waar ek die Jordaan na die Beloofde Land moet oorsteek. Esau se nageslag in Seïr en die Moabiete in Ar het my ook toegelaat om deur hulle land te trek.’

30. Koning Sihon wou ons egter nie laat deurtrek nie, want die Here het sy hart kliphard gemaak. Toe het ons teen koning Sihon geveg en sy land binnegetrek en dit is waar ons vandag nog woon.

31. “Toe het die Here vir my gesê: ‘Ek het Sihon en sy land aan julle gegee. Julle moet intrek en dit beset.’

32. “Sihon en sy weermag het na Jahas toe getrek om teen ons te veg.

33. Die Here het ons egter gehelp en ons het Sihon, sy weermag en sy seuns geheel en al vernietig.

34. Ons het al Sihon se stede ingeneem en al die inwoners doodgemaak. Niemand het oorgebly nie.

35. Ons het die vee vir ons gevat en die stede verwoes.

36. Van Aroër by die Arnonrivier en die groot stad daar naby tot by Gilead was daar geen stad wat ons nie met die hulp van die Here ingeneem het nie.

37. Soos die Here ons beveel het, het ons nie die Ammoniete aangeval nie. Ook nie die dele rondom die Jabbokrivier en al die stede in die berge nie.”