Die Boodskap

Deuteronomium 16:16-22 Die Boodskap (DB)

16. “Drie maal per jaar moet alle mans na die plek toe gaan wat die Here nog sal kies. Hulle moet vir die paasfees, die fees van die weke en die huttefees daar byeenkom en die nabyheid van die Here ervaar.

17. Elkeen moet ook iets saambring. Ooreenkomstig dit wat die Here vir jou gegee het, moet jy ook gee.”

18. “In elke dorp wat die Here jou gee, moet jy amptenare aanstel. Hulle moet die mense goed regeer en in die hof regverdige uitsprake maak.

19. Hulle moet nooit partydig of onredelik wees nie. Hulle moet ook nooit omkoopgeskenke aanvaar nie. Sulke geskenke maak selfs die slimstes en die eerlikstes blind vir die waarheid.

20. In alle sake moet hulle billik en regverdig wees. Dan sal julle die Beloofde Land binnegaan en vir altyd daar bly.”

21. “Wanneer jy vir die Here ’n altaar gebou het, moet jy tog nooit ’n paal ter ere van Asjera langsaan inkap nie.

22. Los ook alle klippilare wat vir die afgode opgerig is. Die Here haat sulke dinge.”