Die Boodskap

Deuteronomium 12:8-15 Die Boodskap (DB)

8. “Wanneer julle die land ingeneem het, moet julle nie aanhou om te doen wat julle tot nou toe gedoen het nie. Julle moenie sommer oral aanbid nie.

9. Dit het julle gedoen voordat julle die Beloofde Land binnegegaan het.

10. Wanneer julle binnekort deur die Jordaan trek, sal julle die land binnegaan wat die Here julle God graag aan julle wil gee. Hy sal julle daar rustig laat woon en julle teen julle vyande beskerm.

11. Dan sal die Here net een plek kies waar Hy aanbid moet word. Daarheen moet julle alles bring wat ek julle vroeër gesê het: julle brandoffers, slagoffers en tiendes, asook daardie geskenke wat julle die Here belowe het.

12. Daar moet julle in die teenwoordigheid van die Here julle God gelukkig wees. Julle kinders, julle werkers en die Leviete wat by julle woon, moet vrolik voor die Here wees. Dink altyd aan die Leviete, want hulle het nie ’n deel van die land gekry nie.

13. “Julle moenie meer by enige plek waarvan julle hou, gaan offer nie.

14. Julle moet net na die spesifieke plek toe gaan wat die Here uit al die stamme van Israel sal kies. Daarheen moet julle julle brandoffers bring en daar moet julle alles doen wat ek vir julle gesê het.

15. Julle mag natuurlik oral diere slag en eet. Eet na hartelus soveel as wat die Here julle gegee het. Almal kan van die vleis eet soos ’n mens ’n takbok of ’n ribbok eet.