Die Boodskap

Deuteronomium 11:8-15 Die Boodskap (DB)

8. “Israel, leef volgens die wil van die Here sodat julle innerlik sterk kan word en die nuwe land kan binnetrek.

9. Wees getrou sodat julle lank in daardie vrugbare land kan bly wat die Here al aan julle voorvaders beloof het.

10. Dié land is anders as Egipte. Daar het julle saad geplant en dan moes julle hard werk om dit soos ’n groentetuin nat te lei.

11. In die land waarheen julle op pad is, is dit heeltemal anders. Daar is net berge en vlaktes en almal is van reënwater afhanklik.

12. Die Here sal egter vir die land sorg en oor alles waghou.

13. As julle na al die voorskrifte luister wat ek julle vandag gee, as julle die Here werklik liefhet en Hom met oorgawe dien,

14. sal Hy altyd reën op die regte tyd stuur. Jy sal lente- sowel as somerreëns kry, sodat jy genoeg koring, wyn en olie sal hê.

15. Ook vir jou vee sal daar oorgenoeg gras wees. Julle sal almal eet en drink en versadig wees.