Die Boodskap

Deuteronomium 1:30-42 Die Boodskap (DB)

30. En dat die Here voor julle uit sal gaan en vir julle sal veg soos Hy destyds in Egipte gedoen het.

31. Julle het self gesien hoe Hy julle in die woestyn gehelp het, net soos ’n man sy seun help. En hoe Hy julle tot by hierdie plek gelei het.

32. Nogtans wou julle nie die Here julle God vertrou nie.

33. Elke dag het Hy vir julle ’n plek gesoek om te kamp. Snags het Hy julle die pad met ’n groot vuur gewys en bedags met ’n wolk. Nogtans wou julle Hom nie vertrou nie.”

34. “Die Here het alles gehoor wat julle gesê het en Hy was kwaad, maar ook teleurgesteld.

35. Dit is hoekom die Here vir julle gesê het: ‘Nie een van julle ongelowige spul sal die goeie land sien wat Ek vir julle wou gee nie.

36. Slegs Kaleb die seun van Jefunne sal die land sien wat Ek vir julle gee. Hy was getrou aan My. Daarom gee Ek ’n deel van die land vir hom en sy kinders.’

37. “Oor al julle ongehoorsaamheid het die Here ook vir my kwaad geword en gesê: ‘Moses, selfs jy sal nie die land binnegaan nie.

38. Jou helper, Josua die seun van Nun, sal dit wel sien. Praat hom moed in, want hy is die een wat Israel die nuwe land sal inlei.’

39. Die Here het verder vir almal gesê: ‘Julle klein kindertjies wat nog nie mooi weet wat reg en verkeerd is nie, sal die land binnetrek. Julle het gesê die vyand sal nog julle kinders in die woestyn doodmaak, maar Ek sal die Beloofde Land vir húlle gee.

40. Die res van julle kan net sowel nou omdraai en deur die woestyn na die Skelfsee teruggaan. Julle sal die land wat Ek julle beloof het, nooit sien nie.’

41. “Toe julle dit gehoor het, het julle gesê: ‘Moses, ons het drooggemaak. Soos die Here vir ons gesê het, sal ons sommer dadelik die land binneval.’ En kan julle nog onthou wat toe gebeur het? Elkeen het sy wapens geneem en wou die land sommerso binneval.

42. “Toe het die Here weer gesê: ‘Moses, keer hulle. Ek gaan beslis nie saam met hulle nie. Daarom sal die vyand hulle vernietig.’