Die Boodskap

3 Johannes 1:10-13 Die Boodskap (DB)

10. Dít kan ek nie so los nie. As ek weer na julle toe kom, sal ek hom onder vier oë spreek oor die goed wat hy aanvang en rondvertel. Hy versprei allerhande lelike en sommer bose stories oor ons en dit is net ’n hoop leuens. Dit is nie al nie. Dit word nog erger! Hy weier om mede-Christene gasvry te ontvang. Hy staan ook sowaar in die pad van diegene wat dit tog graag wil doen. En as hulle nie na hom wil luister nie, gooi hy hulle sommer uit die gemeente uit.

11. My liewe Gaius, neem die goeie as voorbeeld en patroon vir jou lewe en nie die slegte nie. Onthou, die een wat die goeie doen, is die kind van God. Daarteenoor het die een wat slegte dinge doen nie naastenby ’n begrip van hoe God lyk nie.

12. Almal praat net met die hoogste lof van Demetrius. Om dit so te stel, as jy die waarheid self sou kon vra, sou die getuienis net so bevestigend gewees het. Ons kan hierdie goeie getuienis oor hom maar net bevestig. En julle weet mos dat ons die waarheid sal praat.

13. Ek het nog so baie dinge om met jou te bespreek, maar ek wil dit nie skriftelik doen nie.