Die Boodskap

2 Samuel 1:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Dawid het weer in Siklag aangekom na sy geveg teen die Amalekiete. Dit was net na Saul se dood. Hulle was so twee dae terug in die dorp,

2. toe kom daar ’n man aan wat saam met Saul in die oorlog was. Sy klere was geskeur en hy het grond op sy kop gehad. Toe hy by Dawid kom, het hy op sy knieë gaan staan en laag gebuig.

3. Toe Dawid hom vra waar hy vandaan kom, antwoord die man: “Ek het weggekom uit die oorlog waarin die Israeliete veg.”

4. “Wat het gebeur? Vertel my!” sê Dawid.Die jongman vertel toe hoe die manskappe gevlug het, hoe baie daar dood is en dat Saul en sy seun Jonatan ook dood is.

5. “Maar hoe weet jy Saul en sy seun Jonatan is dood?” vra Dawid.

6. Die man wat die boodskap gebring het, sê: “Ek was heel toevallig op Gilboaberg. Daar sien ek toe vir Saul waar hy swaar op sy spies leun. Die soldate in die strydwaens was al op hom.

7. Hy kyk toe om en sien my raak. Hy wink my nader, en ek vra vir hom: ‘Kan ek help?’

8. Toe vra hy my: ‘Wie is jy?’ Ek sê toe: ‘Ek is ’n Amalekiet.’

9. Hy sê vir my: ‘Kom staan hier by my en gee my die doodsteek. Ek haal nog asem, maar ek is gedaan.’

10. Ek het toe by hom gaan staan en hom doodgesteek, want ek het geweet hy sal dit nie maak nadat hy so sleg verloor het nie. Ek het die tulband om sy kop en die armband om sy arm afgehaal en dit vir u gebring. Hier is dit.”

11. Dawid het sy klere gegryp en dit stukkend geskeur. Al sy manne het dieselfde gedoen.