Die Boodskap

2 Petrus 3:15-18 Die Boodskap (DB)

15. Die Here is baie geduldig met ons. Gelukkig! Hy gee ons nog ’n kans om ons lewens behoorlik reg te kry. Kom ons gryp dit met albei hande aan. Dit is presies wat Paulus, daardie broer van ons vir wie ons almal so lief is, ook vir julle geskryf het.

16. In al sy briewe wat oor die wederkoms handel, skryf hy oor hierdie dinge. Nou ja, ek moet erken dat sommige van die dinge wat Paulus skryf moeilik is om te verstaan. Daarom dat daardie dwase wat nie begryp waaroor dit alles gaan nie, sy woorde so maklik verdraai. Maar dit is niks vreemds nie, want hulle verdraai die hele Bybel. Daarom wag daar groot moeilikheid op hulle.

17. My liewe broers en susters, ek het julle nou behoorlik gewaarsku teen die mense wat die goeie nuus verdraai. Nou weet julle vooruit wat alles op julle wag. Pas op vir hulle! Moenie deur hulle sondes en skewe leringe meegesleur word nie. Staan sterk in julle geloof.

18. Leef net elke dag nog meer uit die liefdevolle goedheid wat ons Here en ons Verlosser, Jesus Christus, vir julle gee. En moet nooit ophou om meer en meer oor Hom te leer nie. Aan ons Here behoort al die heerlikheid, nou en vir altyd. Vir seker!