Die Boodskap

2 Kronieke 3:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Salomo het toe die tempel op die Moriaberg in Jerusalem begin bou. Dit was op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, die plek wat sy pa Dawid vir die tempel voorberei het. Dawid het daar ’n visioen gesien.

2. Salomo het op die tweede dag van die tweede maand van sy vierde regeringsjaar met die bouwerk begin.

3. Die afmetings van die gebou se grondplan was 30 meter in lengte en tien meter in die breedte.

4. Die pilaargang aan die voorkant was die volle breedte van die gebou, naamlik tien meter lank. Die plafon was tien meter hoog en die mure aan die binnekant was met goud oorgetrek.

5. Salomo het die mure van die groot vertrek met panele van sipreshout bedek en dit met ’n dun lagie plaatgoud oorgetrek. Dit is met uitgekerfde palmbome en kettings versier.

6. Die gebou is verder met edelstene versier. Die goud wat hy gebruik het, het van Parwajim af gekom.

7. Al die mure, balke, deure en kosyne is met goud oorgetrek en daar is gerubfigure (dit is diere met vlerke) op die mure uitgesny.