Die Boodskap

1 Timoteus 6:6-12 Die Boodskap (DB)

6. Eintlik kán godsdiens ’n mens baie ryk maak. Aardse rykdom is nie so baie werd nie,

7. want ons het sonder ’n sent in die wêreld gekom en eendag wanneer ons doodgaan, sal ons ook niks van die wêreldse rykdom kan saamvat nie.

8. As ons genoeg het om te eet en darem klere het om aan te trek, moet ons meer as tevrede wees.

9. Mense vir wie dit baie belangrik word om ryk te wees, kom gou in die moeilikheid. Hulle gierigheid maak dat hulle in die hande van Satan instap omdat hulle gedurig op allerhande maniere uitgelok word om verkeerde dinge te doen. Uiteindelik bly daar van hulle en al hulle begeertes niks oor nie en hulle beland in die hel.

10. Om agter geld aan te hardloop laat jou in die kloue van allerhande slegte dinge inhardloop. Daar is party mense wat eers aan die kerk behoort het, maar toe so agter geld begin aanloop het dat hulle vandag nie eens meer ’n lid van die kerk is nie. Ons weet hoe sleg dit nou met hulle gaan. Hulle het die een probleem op die ander.

11. Timoteus, jy is God s’n. Bly weg van al hierdie slegte dinge af. Doen eerder jou bes om so te leef dat God met jou tevrede voel. Hou aan om op God te vertrou en om oor te loop van liefde vir ander. Moenie moed verloor nie en hanteer ander mense altyd mooi sodat hulle goed voel om by jou te wees.

12. Toe jy ’n gelowige geword het, was dit nie net maanskyn en rose nie, maar jy het ’n vyand, Satan, gekry om teen te veg. Veg daardie geveg voluit deur naby aan God te bly, want dan sal jy ook vir ewig saam met Hom leef. God het jou geroep om dit te doen en jy het voor baie mense gesê dat jy dit sal doen. Wat ek nou vir jou sê, is nie net praatjies nie.