Die Boodskap

1 Timoteus 3:4-11 Die Boodskap (DB)

4. Hy moet ook mooi na sy gesin kyk en sorg dat sy kinders respek vir hom het en na hom luister.

5. (As iemand nie eens sy eie gesin goed kan hanteer nie, hoe op aarde sal hy dan na die gemeente kan kyk?)

6. Dit moet ook liefs iemand wees wat darem al ’n rukkie ’n Christen is. Die gevaar is dat iemand wat onlangs ’n Christen geword het, dalk te veel van homself sal begin dink as hy so gou ’n leier word. Dit sal sy verhouding met die Here natuurlik baie sleg doen. Die duiwel het ook mos te veel van homself begin dink.

7. Nie-Christene moet niks slegs kan sê van die leier van die gemeente nie, want anders sal die duiwel alles in die wiele ry wat die leier doen.

8. Net so moet diakens mense wees wat by ander respek afdwing en op wie ’n mens kan peil trek. Hulle moet nie aan alkohol verslaaf wees of in besigheid oneerlike wins probeer maak nie. Verder moet die diep waarhede van God waarin hulle glo, hulle hele lewe vol maak.

9. Hulle moet opreg wees en niks moet hulle gewete pla nie.

10. Voordat hulle diakens word, moet die gemeente eers seker maak of hulle dit kan word. Die gemeente moet moeite doen om te kyk of daar nie slegte gerugte die rondte doen oor die moontlike diakens nie. As daar nie klagtes is nie, kan die persone as diakens aangestel word.

11. Vroue wat in die gemeente help, moet ook respek afdwing by ander. Hulle moenie skinder en uitspattig lewe nie. ’n Mens moet ook op hulle kan peil trek.