Die Boodskap

1 Tessalonisense 5:5-19 Die Boodskap (DB)

5. Julle sal gereed wees, want julle leef altyd in die Here se lig. Ons as gelowiges is immers dagmense, nie nagmense nie. Ons het niks om vir Hom weg te steek nie.

6. Ons mag nie aan die slaap wees soos daardie mense wat niks met die Here te doen wil hê nie. Nee, ons moet helder wakker wees. Ons moet reg leef.

7. Die sonde is soos ’n slaappil. Dit sus mense aan die slaap. Daarom strompel daardie spul wat hulle aan drank oorgee soos slaapwandelaars van die een dronkpartytjie na die ander.

8. Gelukkig het die Here ons uit ons slaap wakker gemaak. Ons is dagmense wat die Here se spesiale wapens moet aantrek. Geloof en liefde is die eerste spesiale wapen wat die Here vir ons gee om ons hart soos ’n pantser te beskerm. Ons moet al ons vertroue in God stel om ons te lei. Die tweede wapen wat die Here ons gee, is ’n vaste oortuiging hier binne-in ons dat ons onderweg is na die Here se wêreld. Dit pas soos ’n sterk helm op ons kop.

9. God het besluit dat ons nooit in der ewigheid aan sy straf onderwerp sal word nie, maar dat ons deur die Here Jesus Christus gered word.

10. Daarom het Hy in ons plek gesterf. Dit maak nie saak of ons nog lewe op die dag wanneer Hy terugkom en of ons al dood is nie; ons plek daar by Christus is klaar bespreek. Ons gaan vir altyd saam met Hom leef.

11. Julle moet asseblief met mekaar gesels oor al die dinge wat ek nou vir julle gesê het. Praat mekaar moed in. Ek weet julle doen dit. Maar hou asseblief daarmee aan!

12. Broers en susters, ek wil julle mooi vra om groot respek vir al die leiers in die kerk te hê. Onthou, die Here het hulle aangestel om sy wil aan julle bekend te maak. As julle die spoor byster raak, moet hulle julle aanspreek, en as julle swaarkry, moet hulle julle vertroos.

13. Wees baie lief vir hulle en sien op na hulle. Moet asseblief nie onder mekaar stry en baklei nie.

14. Ek wil julle ook daaraan herinner dat julle ’n plig het teenoor ander Christene. Sê vir daardie mense wat moeilikheid in die kerk veroorsaak om dadelik daarmee op te hou. Praat Christene wie se geloof klein is moed in. Ondersteun die gelowiges wat nog nie mooi verstaan waaroor ons geloof gaan nie. Wees geduldig met almal met wie julle te doen kry.

15. Sê vir ander gelowiges om nie wraak te neem nie. As iemand iets leliks aan hulle gedoen het, mag hulle nie iets leliks terugdoen nie. Sorg eerder dat julle van vroeg tot laat goeie dinge aan mekaar en aan ander mense buite die kerk doen.

16. Wees altyd vol blydskap.

17. Praat met die Here elke keer as julle die kans het. Moet nooit moeg word om te bid nie. Hy hoor!

18. Wees heeltyd dankbaar teenoor God, wat ook al met julle gebeur. Dan stap julle op die pad wat God vir julle beplan het toe julle in Christus Jesus begin glo het.

19. Moenie julle doof hou wanneer die Gees met julle praat nie. Luister fyn na sy stem.