Die Boodskap

1 Tessalonisense 5:20-26 Die Boodskap (DB)

20. Moenie die profetiese boodskappe van ander oorhaastig van die tafel vee nie. Luister na alles wat hulle sê,

21. maar wees versigtig. Stel vas of dit regtig van die Here af kom. Bêre al daardie boodskappe wat wel van God af kom in julle hart, en gaan doen dit,

22. maar bly weg van boodskappe wat julle op die verkeerde pad kan lei.

23. Ek bid dat God, wat vrede tussen ons en Hom gemaak het, julle lewe geheel en al vir Hom opsy sal sit. Mag Hy julle met alles binne-in julle oppas tot op daardie dag dat ons Here Jesus Christus weer kom. Mag Hy julle op ’n dag silwerskoon voor Christus laat staan, sonder ’n spikkeltjie sonde in julle lewe.

24. Ek weet God sal my gebed verhoor, want Hy hou sy woord. Toe Hy julle sy kinders gemaak het, het Hy belowe dat Hy die hele tyd by julle sal wees tot op die heel laaste dag.

25. My liewe broers en susters, sal julle asseblief ook vir my en my helpers bid?

26. Julle moet mekaar vriendelik ontvang. Soen mekaar met ’n heilige soen as julle saamkom soos wat dit by Christene pas.