Die Boodskap

1 Tessalonisense 5:1-6 Die Boodskap (DB)

1. My broers en susters, dis nie vir my nodig om met julle te praat oor presies wanneer die Here gaan terugkeer, of wat alles sal gebeur as Hy terugkeer nie.

2. Julle weet teen hierdie tyd baie goed dat die dag waarop die Here terugkom net so onverwags sal plaasvind soos ’n dief wat in die middel van die nag by jou huis kom inbreek.

3. Baie mense sal nog sê: “Ag nee wat, alles is veilig,” dan val alles rondom hulle skielik inmekaar. Hierdie mense sal begin skree van die pyn, net soos ’n vrou wat op die punt staan om geboorte te gee. Maar dit sal niks help nie. Niemand sal op daardie dag wegkom nie.

4. Gelukkig is ek nie oor julle bekommerd nie, my broers en susters. Julle leef nie in die donker nie; daarom sal die dag van die Here julle nie onkant betrap nie.

5. Julle sal gereed wees, want julle leef altyd in die Here se lig. Ons as gelowiges is immers dagmense, nie nagmense nie. Ons het niks om vir Hom weg te steek nie.

6. Ons mag nie aan die slaap wees soos daardie mense wat niks met die Here te doen wil hê nie. Nee, ons moet helder wakker wees. Ons moet reg leef.