Die Boodskap

1 Tessalonisense 3:9-13 Die Boodskap (DB)

9. Hoe kan ek ooit vir God genoeg dankie sê vir julle almal? Julle verander my gebede in een groot fees! Want ek hou net aan om dank aan ons wonderlike God te bring oor julle. My lewe loop oor van vreugde oor julle!

10. In dieselfde asem bid ek nog die hele tyd baie ernstig dat God dit vir my moontlik sal maak om weer daar by julle uit te kom. Ek wil julle baie graag weer sien. Ek moet julle geloof nog sterker maak sodat daar niks in julle geestelike toerusting sal ontbreek nie.

11. Ek vertrou op ons God en Vader en op ons Here Jesus om my op die regte tyd daar na julle toe te laat kom.

12. My gebed is dat die Here julle baie lief vir mekaar sal maak. En ook vir ander mense. Mag julle liefde net sterker en sterker word. Julle moet net so lief wees vir ander as wat ek nou vir julle is.

13. Ek bid dat julle lewe van binne af sal verander sodat julle die hele tyd net vir God sal leef. Dan sal daar nie ’n enkele krapmerk van die sonde in julle lewe te sien wees as julle op die laaste dag voor God ons Vader moet gaan staan nie. Op daardie dag wanneer ons Here Jesus en almal wat aan Hom behoort, terugkeer, sal julle spesiaal aan God toegewy wees. Dit is die waarheid!