Die Boodskap

1 Petrus 1:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Die boodskappers van God, die profete, het lank gelede al gesê dat God vir julle wonderlik goed gaan wees, selfs al verdien julle dit nie. Hulle het baie moeite gedoen om te probeer uitvind wat God presies in gedagte gehad het toe Hy gesê het dat Hy mense gaan red. Hulle wou agterkom wanneer en hoe alles sou gebeur.

11. Die Gees van Christus wat ook in hulle aan die werk was, het hulle daarmee gehelp. Die Gees het vooraf duidelik gesê dat Christus sal moet ly, maar dat God daarna aan Hom groot eer sal bewys.

12. So het daardie profete besef dat hulle boodskap eintlik nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Die mense wat dus die goeie boodskap van Jesus vir julle kom vertel het, is so deur die Heilige Gees gelei. Hierdie boodskap is so wonderlik dat selfs die engele opgewonde is om te sien wat alles gaan gebeur.

13. Dink mooi oor al hierdie dinge na en moenie toelaat dat julle gedagtes deur allerhande ander dinge deurmekaargekrap word nie. Jesus sal vir julle geskenke bring wanneer Hy weer kom, ver bo wat julle verdien. Dit weet julle mos vir seker. Tree op soos God se kinders wat graag doen wat Hy vra.

14. Vergeet heeltemal van al die dinge wat julle vroeër so graag gedoen het. Die lus of gevoel om daardie ou verkeerde dinge weer te doen, moet nie eens by julle opkom nie. Julle het toe mos nie van beter geweet nie.

15. Die manier waarop julle nou leef, moet anders wees. God het julle geroep om Syne te wees. Hy is sonder sonde, omdat Hy heeltemal anders is as die sonde en Hy niks met die sonde te doen wil hê nie. Net soos God moet julle ook niks met die sonde te doen hê nie. Bly daarvan weg.

16. Die Skrif sê:“Julle moet niks met die sonde te doen hê nie, want God het niks daarmee te doen nie.”

17. Julle ken mos julle Vader met wie julle so in gebed praat. Hy trek niemand voor nie. Wat vir Hom saak maak, is of iemand vir Hom leef of nie. Laat julle hele lewe dus vertel van die respek wat julle vir God het.

18. Julle is nie mense wat net vir hierdie wêreld leef en vir wat julle daaruit kan kry nie. Dinge het mos heeltemal vir julle verander. Vroeër was julle, soos julle voorouers, mense wat in ’n geestelike tronk gesit het. Soos mense vasgevang agter tralies het julle ’n doellose en leë lewe gelei.