Die Boodskap

1 Konings 1:22-32 Die Boodskap (DB)

22. Batseba was nog aan die praat toe Natan daar aankom.

23. Hulle het vir die koning gesê die profeet is daar en Dawid het gesê hy moet inkom. Natan het die kamer binnegegaan en laag voor die koning gebuig.

24. Natan het gevra: “U Majesteit, is dit u wat gesê het dat Adonia in u plek moet koning word?

25. Adonia het vandag ’n groot klomp beeste, skape en vetgemaakte kalwers by die Sogeletrots gaan offer. Hy het al u seuns soontoe genooi en die leërhoofde en Abjatar die priester was ook daar. Op hierdie oomblik vier hulle fees en kort-kort skree die mense: ‘Lank lewe koning Adonia.’

26. Maar, U Majesteit, hy het nie een van ons genooi nie. Nie vir my nie, ook nie vir Sadok, die ander priester nie en ook nie vir Benaja nie. Selfs Salomo is nie eens genooi nie.

27. Is dit reg wat Adonia gedoen het, U Majesteit? Moet hy u opvolg? Het u alles so beplan sonder om ons daarvan te vertel?”

28. Koning Dawid het geantwoord: “Gaan roep vir Batseba! Sê sy moet onmiddellik hierheen kom!” Batseba het teruggekom en voor die koning gaan staan.

29. Toe het hy vir haar gesê: “Ek belowe voor die lewende Here, die God wat my uit soveel moeilikhede en probleme gehelp het,

30. dat ek vandag my belofte sal nakom wat ek lank gelede in die Naam van die Here, die God van Israel, aan jou gemaak het. Jou seun Salomo sal inderdaad koning word wanneer ek nie meer daar is nie.”

31. Batseba was oorstelp van vreugde. Sy het laag gebuig en gesê: “Mag koning Dawid vir altyd in die herinnering van sy mense voortleef.”

32. Toe het Dawid vir Sadok, Natan en Benaja laat kom en vir hulle gesê: