Afrikaans 1983

Psalms 97 Afrikaans 1983 (AFR83)

Vir die regverdiges het daar lig gekom

1. Die Here regeer, die aarde moet juig,al die baie eilande moet bly wees!

2. Die Here is omgewe van donker wolke;sy troon is gebou op reg en geregtigheid.

3. 'n Vuur trek voor Hom uiten verteer sy vyande aan alle kante.

4. Sy weerligstrale verlig die wêreld;die aarde sien dit en bewe.

5. Berge smelt soos was voor die Here,voor die Here van die aarde.

6. Die hemel getuig dat Hy regverdig isen al die volke sien sy magtige verskyning.

7. Almal wat beelde dien,wat nikswerd afgode vereer, word ontnugter,want al hulle gode moet voor die Here buig.

8. Sion is bly, die stede van Juda juigwanneer hulle hoor wat U as regter gedoen het, Here.

9. U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde,hoog verhewe bo alle gode.

10. Julle het die Here lief; haat dan wat sleg is!Hy bewaar die lewe van sy troue dienaars,Hy red hulle uit die greep van die goddelose.

11. Vir die regverdiges het daar lig gekom,blydskap vir die opregtes.

12. Wees bly in die Here, regverdiges,prys sy heilige Naam.