Afrikaans 1983

Psalms 88 Afrikaans 1983 (AFR83)

Laat my gebed nie tevergeefs wees nie

1. 'n Lied. 'n Psalm van die Koragiete. Vir die koorleier: met fluitspel. 'n Gedig van Heman die Esragiet.

2. Here my God wat my altyd help,ek roep elke dag om hulp,elke nag bid ek tot U.

3. Laat my gebed nie tevergeefs wees nie,hoor my geroep.

4. Die swaarkry het vir my te veel geword:ek vat al aan die doderyk,

5. ek staan al met die een voet in die graf,ek het geen krag meer nie.

6. Dit is asof ek al tussen die dooies is,tussen dié wat gesneuwel het en in hulle grafte lê,dié aan wie U nie meer dink nieen van wie U u hand teruggetrek het.

7. U het my onder in die put laat beland,in diepe duisternis.

8. U gramskap rus swaar op my,U laat al u golwe oor my breek. Sela

9. U laat my bekendes ver van my af staanen maak my vir hulle iets afskuweliks;ek sit vasgevang en kan nie uitkom nie.

10. My oë is al dof van ellende;die hele dag deur roep ek na U, Here,en steek ek my hande in gebed na U uit.

11. Sal U met dooies 'n wonder laat gebeur?Kan gestorwenes opstaan en U loof? Sela

12. Word daar in die graf vertel van u troue liefde?Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel?

13. Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood,u redding in die land van vergetelheid?

14. Ek roep na U om hulp, Here,vroeg in die môre al bid ek tot U.

15. Waarom verstoot U my, Here,waarom trek U U van my af terug?

16. Ek ly swaar, ek kwyn al weg van my jeug af.Dit is 'n swaar las waarmee U my teister.Ek weet geen raad meer nie.

17. U toorn rus op my,U tref my met skrik en vernietig my.

18. Dit bedreig my heeldag soos vloedwater,dit sak op my toe van alle kante af.

19. U laat my vriende en my bure ver van my af staan,die duisternis van die dood is my geselskap.