Afrikaans 1983

Psalms 56 Afrikaans 1983 (AFR83)

In God stel ek my vertroue

1. Vir die koorleier: op die wysie van “Die duif in die hoë bome”. Van Dawid. 'n Gedig, na aanleiding daarvan dat die Filistyne hom in Gat gevange geneem het.

2. Wees my genadig, o God, want daar is mense wat my jaag,vyande wat my vervolg van die môre tot die aand.

3. Vroeg en laat jaag my teëstanders my,en ek het baie vyande, o Allerhoogste.

4. Die dag as ek bang word,vertrou ek net op U.

5. In God, wie se woord ek prys,in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie.Wat kan 'n blote mens aan my doen?

6. Hulle vergal my lewe gedurig met beskuldigings teen my,al hulle bose planne is teen my gerig.

7. Hulle lê op die loer en hou my dop,hulle bly op my hakke,so gretig wag hulle op my dood.

8. Moenie dat hulle ongestraf bly vir hierdie vyandigheid nie!Laat u toorn hulle vernietig, o God!

9. My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie,U het op my trane gelet.In u boek staan hulle opgeteken.

10. Die dag wanneer ek na U roep om hulp,val my vyande terug.Dít weet ek: God is aan my kant.

11. In God, wie se woord ek prys,in die Here, wie se woord ek prys,

12. in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie.Wat kan 'n mens aan my doen?

13. Ek moet my geloftes aan U nakom, o God,ek wil U met dankoffers betaal,

14. want U het my van die dood gered,my voet nie laat struikel nie,en met God by my kon ek my pad aanhou loopen die lewenslig bly sien.