Afrikaans 1983

Psalms 99:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Here regeer: die volke erken bewend sy gesag.Hy troon oor die gerubs: die aarde sidder van ontsag.

2. Groot is die Here, Hy wat in Sion is,hoog verhewe bo al die volke.

3. Hulle moet u groot en gevreesde Naam prys:“U is heilig!”

4. U is die magtige Koning,U het die reg lief;wat reg is, het U tot stand gebring.U het reg en geregtigheid in Jakob gevestig.

5. Prys die Here ons God.Kom buig in aanbidding voor Hom:Hy is heilig!

6. Moses en Aäron was onder sy priesters,Samuel onder dié wat sy Naam aangeroep het.Hulle het die Here aangeroep en Hy het hulle gebed verhoor.

7. In 'n wolkkolom het God met hulle gepraat,en hulle het sy voorskrifte gehoorsaam,die opdragte wat Hy hulle gegee het.