Afrikaans 1983

Psalms 119:79-96 Afrikaans 1983 (AFR83)

79. Laat dié wat U dien en u verordeninge ken,aan my kant wees.

80. Laat my volledig by u voorskrifte bly,sodat ek nooit raad-op sal wees nie.

81. Ek smag na u redding,ek vertrou op u woord.

82. Ek sien verlangend uit na die vervulling van u belofteen vra: “Wanneer gee U tog vir my uitkoms?”

83. Ek het verskrompel soos 'n velsak in die rook,maar u voorskrifte het ek nie verontagsaam nie.

84. Hoe lank moet ek nog so lewe?Wanneer straf U my vervolgers?

85. Die hovaardiges, wat nie volgens u wet lewe nie,het vir my meer as een keer 'n gat gegrawe om in te val.

86. Op al u gebooie kan ek my verlaat.Help my, want dié mense vervolg my sonder rede.

87. Hulle het my byna van die aarde af laat verdwyn,maar u bevele het ek nie verontagsaam nie.

88. Hou my in die lewe omdat U my liefhet,dan sal ek u onderwysing gehoorsaam.

89. U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel.

90. U trou is van geslag tot geslag;U het die aarde gemaak, en dit staan vas.

91. Ja, wat U bepaal het, staan vandag nog vas,alles is aan U onderworpe.

92. As ek my nie in u wet verlustig het nie,het ek omgekom in my ellende.

93. Ek sal u bevele nooit verontagsaam nie,want deur hulle het U my in die lewe gehou.

94. Ek behoort aan U, red my,want ek vra steeds wat u bevele is.

95. Al staan die goddeloses gereed om my te vernietig,u verordeninge sal ek in ag bly neem.

96. Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het,net u gebod het geen begrensing nie.