Afrikaans 1983

Psalms 119:103-120 Afrikaans 1983 (AFR83)

103. Hoe aangenaam is u woord,soeter as heuning in die mond.

104. U bevele gee my insig,daarom haat ek elke verkeerde pad.

105. U woord is die lamp wat my die weg wys,die lig op my pad.

106. Ek het 'n eed afgelê, en daarby sal ek bly,om my aan u bepalings te hou;hulle is regverdig.

107. Ek ly swaar, Here,hou my in die lewe, soos U beloof het.

108. Neem tog my dank aan, Here.Leer my u bepalings.

109. My lewe is gedurig in gevaar,maar u wet verontagsaam ek nie.

110. Die goddeloses stel vir my 'n strik,maar van u bevele wyk ek nie af nie.

111. U verordeninge maak ek altyd my eie,want hulle is vir my 'n vreugde.

112. Ek lê my daarop toe om u voorskrifte altyd uit te voer,tot die einde toe.

113. Ek haat huigelary,maar u wet het ek lief.

114. By U skuil ek, U beskerm my,in u woord stel ek my vertroue.

115. Gaan weg van my af, julle wat onreg doen;ek sal aan die gebooie van my God gehoorsaam bly.

116. Laat my vas staan soos U beloof het, dat ek kan lewe,dat ek nie teleurgestel sal wees in my verwagting nie.

117. Beskerm my, dan sal ek behoue blyen u voorskrifte gedurig voor oë hou.

118. U verwerp almal wat van u voorskrifte afdwaal;met hulle ontrou mislei hulle hulleself.

119. U verwyder al die goddeloses van die aarde afsoos waardelose skuim,daarom het ek u verordeninge lief.

120. Ek sidder van vrees vir U,ek het diepe ontsag vir u bepalings.